WEF Durban – na die afgradering

Posted on

Die Verenigde State van Amerika ondergaan tans onsekere transformasie na die verrassende verkiesing van Donald Trump as die nuwe president in November verlede jaar. Die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie ondergaan onsekere transformasie na die onverwagse Brexit-uitspraak van die kiesers in Junie verlede jaar en Frankryk sal nou onsekere transformasie ondergaan na die nie-so-verrassende oorwinning van Emmanuel Macron in die tweede rondte van die Franse presidensiële verkiesings. Sy oorwinning oor die naweek het ‘n verdere struikelblok in die pad geplaas van die toenemende anti-vestigingspolitiek wat met Brexit begin het, wat versterk is deur Donald Trump en wat verder bedreig is deur Geert Wilders in Nederland en Marine Le Pen in Frankryk.  In Suid-Afrika word ons nou gekonfronteer met die vooruitsig van “radikale ekonomiese transformasie” na aanleiding van die bekendstelling van hierdie konsep in die Staatsrede en die nasionale Begrotingsrede vroeër vanjaar. Sedertdien is die reeds verhoogde politieke en ekonomiese onsekerheid verder geskud toe President Jacob Zuma vir die tweede keer “Pandora’s box” oopgemaak het, soos aangehaal deur Nomura se Peter Attard Montalto, met die afdanking van Pravin Gordhan as Minister van Finansies. Die negatiewe reaksie van groot globale graderingsagentskappe was vinnig en die land het nou ‘n swak houvas op die plaaslike geldeenheid beleggingsgraderings.  In die eerste week van Mei het Durban die Afrika-byeenkoms van die 2017 Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) aangebied. Hierdie geleentheid het ‘n platform vir ‘n aantal staatsamptenare gelewer om hul standpunte te lug nadat die kabinet van Jacob Zuma aan die einde van Maart deur die “nag van die lang messe” hervorm is. Die president het die hoof Wêreld Ekonomiese Forum-vergadering in Davos in Januarie ‘n mis gegee en hy het 2016 se WEF Afrika-vergadering in Kigali, Rwanda, ook oorgeslaan. ‘n Onlangse artikel in die Business Day koerant stel die vraag of hy probeer om moeilike vrae van globale beleggers en eweknieë te ontduik en of hy eenvoudig nie omgee nie. Hy het egter die geleentheid van dié forum in Durban gekies om ‘n afvaardiging van nie minder as 18 Suid-Afrikaanse kabinet ministers, wat sy splinternuwe Minister van Finansies, Malusi Gigaba, insluit, te lei nie. Dit was duidelik ‘n geleentheid vir Zuma en Gigaba om te probeer om die skade wat Zuma met die kabinetskommeling aangerig het, ongedaan te maak. Sekere berigte lui:

Hulle het die beste van die geleentheid gemaak, die middelpunt ingeneem en geleenthede, formeel en informeel, gebruik om plaaslike en globale sakeleiers te verseker dat Suid-Afrika op die regte pad is.

Die redaksie suggereer voorts dat dit glad nie duidelik is of hulle in die doel geslaag het nie. Hulle is ook nie ondersteun deur die feit dat die regering, in teenstelling met vorige WEF-vergaderings, alleen gestaan het nie. Die sakelui- en arbeidsleiers wat saam met die regering gesels het om SA Inc te verkoop en beleggers te lok tydens die laaste twee Davos-vergaderings, was nie van plan om dit in Durban weer te doen nie. SA se Uitvoerende Hoofde het hul woede met Zuma se kabinetskommeling en Suid-Afrika se gevolglike kredietafgradering na rommelstatus duidelik gemaak. Georganiseerde arbeid partye het hul teenstand tydens die Cosatu-kongres die vorige week in Bloemfontein duidelik gemaak toe hulle Zuma se toespraak uitgejou het.  Zuma het glo baie van die regte dinge gesê, veral toe hy ‘n vraag oor die Cosatu-uitjouing beantwoord het deur te sê in werklikheid – “that’s democracy”. Hy het sy radikale ekonomiese transformasieverhaal aangehaal en swaar op die rasse kwessie geleun, maar hy het dit gebruik tesame met die inklusiewe groeiverhaal waarvan besighede en die WEF ten gunste is. Hy het selfs ‘n kort verduideliking van sy besluit om die kabinet te skommel gegee – net soos ‘n hof beslis het, moes hy die rasionaal verduidelik – en gesê dat sy intensie is om vir jongmense plek te maak.

Gigaba het ook die regte geluide gemaak, veral in ‘n besondere een-tot-een-sessie van sy eie wat die WEF by die program ingesluit het. Hy het die Tesourie-lied gesing rondom fiskale sake, en beklemtoon dat die begroting van 2017 reeds afgesluit is en dat hy in elk geval nie van plan was om minder versigtig as sy voorganger te wees nie. “We can’t spend money we don’t have,” het hy gesê. Hy het ook gepraat oor inklusiewe groei en die behoefte om die ekonomie te laat groei om die inkomstebasis uit te brei waarmee  sosio-ekonomiese programme finansier kan word.

Gigaba was reeds op die agtervoet nadat dit onlangs bekend gemaak is dat sy nuwe ekonomiese raadgewer Chris Malikane (Mede-professor in Ekonomie aan die Universiteit van Wits) en senior ANC-leiers, insluitende President Zuma, versoek het om grond sonder betaling te onteien. In ‘n onderhoud met die Mail & Guardian by die Durban WEF het Gigaba, Malikane weerspreek. “There is an Expropriation Act, which gives the government the authority to expropriate land for development. I think that we need to exhaust that legislation before we can think of any additional measures, including outside of the constitutional framework,” het Gigaba gesê. Hy het aan die Mail & Guardian gesê hy het weer vir Malikane betig, nadat die adviseur sy oproep tot ‘n nuwe ekonomiese beleid en ‘n wysiging van die Grondwet herhaal het om sleutel sektore van die ekonomie te nasionaliseer. Gigaba het ook aan afgevaardigdes by ‘n ontbyt in Durban gesê dat dit tyd was dat die ANC en regeringsleiers die konsepte van radikale ekonomiese transformasie en inklusiewe groei omskryf.

Die probleem is dat al die woorde wat met heuning drup, in ‘n konteks kom wat welbekend is aan diegene by die WEF wat Zuma en Gigaba die hof probeer maak het. Die gewese Minister van Finansies, Pravin Gordhan se teenwoordigheid in Durban, het hulle daaraan herinner. Zuma se herskommeling het nie gegaan om plek te maak vir meer bevoegde mense of jonger mense nie, maar oor die verwydering van diegene wat in die weg staan ​​van sy faksie se pogings om die staat vir hul eie doel te plunder, en meer buigsame posisies in te stel. Hierdie konteks sal voortgaan om enige geloofwaardigheid wat die President en sy nuwe Minister van Finansies mag hê, ongeag die forum, te ondermyn.

In die nadraai van die kabinetskommelings en kredietafgraderings, is daar sprake van korporatiewe organisasies wat hulle spandering in die plaaslike ekonomie terughou. Die graderingsagentskappe het onsekerheid rondom ekonomiese beleidsrigtings en hul bekommernis oor die voorwaardelike aanspreeklikhede wat staatsbeheerde entiteite vir die staat inhou as een van die redes vir die kredietafgradering aangehaal. “I think trust is very low and this is reflected in talk of an investment strike,” het Montalto gesê. Sibanye Gold se uitvoerende hoof, Neal Froneman, het verlede maand gesê die maatskappy sal nie in enige nuwe projekte in Suid-Afrika belê weens die politieke onrus nie. Volgens die data van die Reserwebank is die skuld op bruto binnelandse produkvlakke van Suid-Afrika se nie-finansiële korporasies ver onder dié van sy markgenote. Daarbenewens het

…kontantdeposito’s wat deur plaaslike korporasies gehou word, in die afgelope jaar gestyg.

Die totale kontantdeposito’s wat deur die private sektor gehou is – uitgesluit finansiële instellings soos banke – was in Februarie sowat R719 miljard.

Lesetja Kganyago, die Reserwebank se goewerneur, het egter die stellings verwerp dat Suid-Afrikaanse maatskappye op ‘n beleggingsstaking  gegaan het. Dit kan nie ‘n beleggingsstaking genoem word nie, het Kganyago gesê, want sake sowel as verbruikersvertroue is nodig vir belegging om plaas te vind. Maar te midde van dalende ekonomiese groei is albei hierdie aanwysers swak. Hy het gesê:

Beleidmakers moet ‘n omgewing skep waar besigheidsvertroude floreer.

Hy het ook daarop gewys dat daar wêreldwyd groeiende kommer oor die volhoubaarheid van korporatiewe skuldvlakke is. In ‘n omgewing van lae ekonomiese groei het Suid-Afrikaanse maatskappye lae skuldvlakke, wat hulle beter voorbereid maak, in die geval van ‘n opswaai, om lenings aan te gaan en sake-aktiwiteite te finansier.

Suid-Afrika moes die kwessies wat deur graderingsagentskappe geïdentifiseer is as beperkings op ekonomiese groei, hanteer, insluitende “sorting out issues to deal with business confidence”, het Kganyago gesê. Dit blyk egter baie moeilik te wees.  “Trust has broken down completely because of the President’s actions,” het Dennis George, Algemene Sekretaris van die Federasie van Unies van Suid-Afrika, gesê. George was deel van die arbeidsdelegasie wat saam met Gordhan na die buiteland gereis het om beleggers te werf en graderings-agentskappe te paai. Attard Montalto het bygevoeg dat “Team South Africa” nooit deur die meederheid ANC lede, die presidensie of ander ministeries aanvaar is nie en na die kabinetskommeling net warm lug is. Alhoewel die vertoning van eenheid gehelp het om verlede jaar ‘n resessie te verhoed, is sakelui baie meer skepties en risiko-afwykend, en sal dit  “hunker down” of vir geleenthede in die buiteland gaan soek, het hy gesê.

Maar advies rondom die herstel van die ekonomie en resepte vir ekonomiese verbetering is welbekend, wyd aangebied en goed gesirkuleer. Dit word al vir jare gedoen terwyl ons jaar-tot-jaar-BBP-groei teen ‘n hoogtepunt van 7.1% verdamp het tot sy huidige geringe koers van 0,7%. Die bloudruk Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) lê in die koue en bibber. Toe die president vir die tweede keer “Pandora’s box” oopgemaak het, is die dooiepunt tussen sakelui, regering en arbeid weereens uitgelig.

Dus, wag ons weer. Positiewe verandering sal óf van binne die regerende party kom, aangesien die leierskap-verandering van die einde van hierdie jaar nader kom, óf bekommerde burgers van alle vlakke sal moet verenig om die volgende nasionale verkiesing te gebruik om positiewe veranderinge af te dwing.

Politiek opsy geskuif, globale maatskappyverdienste blyk of dit herstel ná die Amerikaanse Dollar-geïnduseerde verdienste-resessie wat in 2014 begin het. Terwyl effekte opbrengste en kontantkoerse in Ontwikkelde Markekonomieë groot risiko’s vir beleggers bied, sal verhoogde opbrengs in Ontluikende Markekonomieë geleenthede bied. Terwyl politieke onsekerheid ‘n wêreldwye verskynsel is, dui markprestasie daarop dat politieke inmenging in markgedrag gewoonlik kortstondig is binne die konteks van ‘n toepaslike langtermyn beleggingstydperk.

Bron: APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 + sixteen =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>