Ekonomiese en Markoorsig – Oktober 2017

Posted on

Internasionaal

Reële globale ekonomiese groei het opwaarts begin draai en nader nou die langtermyntendens van 3.5% per jaar, terwyl globale rentekoerse nietemin steeds laag bly. Teen 1.25% is die Federale Reserwebank se federale fondskoers hoog in vergelyking met sy eweknieë (die Bank van Engeland se verrekeningsbankkoers is tans 0.25% en die Europese Sentrale Bank se terugkoopkoers is 0% effektief). In vergelyking met historiese vlakke, is dit egter geensins hoog nie. Monetêre beleidsmakers, spesifiek dié buite die Verenigde State, is veral versigtig om nie hul ekonomiese groei te kniehalter deur te vroeg met rentekoersverhogings te begin nie.

Daar is wel areas van sterk groei oor die wêreld – die totale reële groei in die BBP van ontluikende markte staan tans op ʼn gemiddeld van byna 5%. Suid-Afrika vaar ongelukkig die swakste van hierdie markte teen om en by 0.5%.

Hierdie wêreldwye tendens van lae rentekoerse wat reeds sedert 2009 voorkom, het die inflasie in batepryse aangeblaas en daarin geslaag om die meeste wêreldmarkte na rekordhoogtes (of ten minste na aan rekordhoogtes) te stoot. Teen Desember behoort ‘n rentekoersverhogingsiklus met mening af te skop in die VSA, gevolg deur die Verenigde Koninkryk en dalk selfs Europa. Internasionale beleggers behoort nie hoë opbrengste van globale groeibates te verwag nie.

Die bestendige styging in oliepryse mag dalk vorentoe die huidige herstel in die globale ekonomie belemmer. Nog ʼn faktor wat betreklik onvoorspelbaar is en wat definitief  ‘n uitwerking op die markte sal hê, is die internasionale politieke stand van sake. Dit was ʼn besige maand op die politieke front met die Duitse verkiesing, die aankondiging van ʼn vroeër as verwagte verkiesing volgende maand in Japan, en die bekendmaking van die Trump-belastingplan.

Met dít in gedagte, behoort die Amerikaanse Dollar en Tesourie-koerse aan te hou styg in die tyd wat voorlê. Oor die algemeen behoort verdere versterking van die Dollar in die nabye toekoms te lei tot winsneming in Ontluikende Markte-bates, wat tot dusver ʼn goeie jaar gehad het.

Suid-Afrika

Volgens Stanlib se Kevin Lings, het Suid-Afrika se handelsbalans in Augustus 2017 nog ʼn indrukwekkende surplus van R5.9 biljoen aangeteken. Dit staan in vergelyking met ʼn aangepaste surplus van R9.3 biljoen in Julie 2017 en ʼn surplus van R10.6 biljoen in Junie 2017. Alhoewel handelsdata besonder moeilik is om akkuraat te voorspel op ʼn maand-tot-maand-basis, veral aangesien die data nie seisoenaal aangepas word nie en dikwels hersien word, was hierdie positiewe syfer ʼn aangename verrassing. Die mark het ‘n handelsurplus van slegs ongeveer R2 biljoen vir die maand verwag.

Suid-Afrika het ʼn handelsurplus in nege van die afgelope 12 maande aangeteken. Dit is voorwaar ʼn indrukwekkende ommekeer en ʼn bietjie lig in ʼn redelik donker tonnel. Die invordering van Suid-Afrika se invoerbelasting is egter steeds baie minder as die begrote syfer (sien Kommentaar onder) en sal na verwagting nog verder teleurstel. Die land se handelsbalans het oor die algemeen verbeter die afgelope jaar te danke aan ‘n kombinasie van stadiger groei in invoere en ʼn toename in uitvoere. Hoër internasionale industriële kommoditeitspryse het ʼn bietjie van die druk op Suid-Afrika se saldo op die lopende rekening verlig in 2016 en vroeg in 2017. Die stadiger groei in invoere weerspieël ongelukkig eerder swak plekke in die Suid-Afrikaanse ekonomie en nie ʼn verbetering in invoervervanging nie. Hierdie algehele tendens sal na verwagting in 2017 voortduur en behoort by te dra om Suid-Afrika se tekort op die lopende rekening te beheer. Dit bly nietemin steeds ʼn aanduiding van ʼn sukkelende ekonomie.

Die koste van energie (soos bepaal deur die olieprys) het die afgelope paar maande vinniger as industriële kommoditeitspryse gegroei wat impliseer dat ʼn swak Rand steeds verwag kan word. Suid Afrika is in die eerste plek ‘n invoerder en in die tweede plek ‘n uitvoerder. Alhoewel politieke drama tydens die aanloop tot die regerende party se konferensie in Desember steeds hoofnuus sal wees, is dit nie die enigste faktor wat die Rand kan verswak nie. Van die meer onlangse politieke dramas word meer breedvoerig in die Kommentaar hieronder bespreek.

Markprestasie

Vir die jaar tot einde September het groeibates (eiendom en aandele) ʼn meer konvensionele opbrengs op risiko gelewer aangesien groeibates beter gevaar het as inkomstebates oor hierdie periode. Die Suid-Afrikaanse aandelemark, soos bepaal deur die FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele, het ʼn bietjie meer as 10% aan beleggers gelewer, maar binne die breë sektore is die prestasie van die finansiële sektor (7.0%) en medium en klein kapitalisasie-aandele (-2.8% en -0.1% onderskeidelik) ʼn aanduiding van ʼn sukkelende plaaslike ekonomie. Die vinnige ommeswaai in die Suid-Afrikaanse aandelemark bewys weereens dat beleggers baie versigtig moet wees wanneer hulle groeibates vir kontant wil verruil sodra opbrengste gemiddeld of swak is vir ‘n ontoepaslike beleggingshorison. Die prestasie in aandelemarkte kan redelik vinnig draai. Die afgelope paar maande is ʼn goeie voorbeeld daarvan.

Internasionale aandele het spesifiek goed gevaar in Amerikaanse Dollar-terme (MSCI Wêreldindeks van Alle Lande is 17% op oor die jaar). Gegewe die byna onveranderde vlakke van die Rand die afgelope 12 maande, was hierdie vordering tot voordeel van beleggers met blootstelling aan globale aandele en ontluikende mark-aandele (SA uitgesluit). Globale effekte het die afgelope 12 maande in absolute terme gedaal aangesien waardasies van hierdie bateklas steeds duur is en wêreldekonomieë steeds besig is om te herstel.

 

Markaanwysers 30 September 2017
(Alle opbrengste in Rand) 3 maande 12 maande
   
SA Aandele (JSE Indeks van Alle Aandele) 8.9% 10.2%
            Hulpbron sektor 17.8% 11.1%
            Finansiële sektor 5.1% 7.0%
            Industriële sektor 7.4% 11.5%
SA Eiendom 5.7% 9.5%
SA Effekte (SA Indeks van Alle Effekte) 3.7% 8.2%
SA Kontant (STeFI) 1.8% 7.6%
Globale Ontwikkelde Aandele (MSCI Wêreldindeks) 8.2% 16.7%
Ontluikende Mark-aandele (MSCI Indeks vir Ontluikende Markte) 11.3% 20.7%
Globale Effekte (Barclays Globale Indeks van Alle Effekte) 4.9% -3.0%
Rand/Dollar 3.1% -1.8%
Rand/Sterling 6.4% 1.4%
Rand/Euro 6.8% 3.3%

 

Kommentaar – die druk op die Minister van Finansies

Terwyl die politieke drama in die land nuwe hoogtes bereik, sluip die datum van die nuwe Minister van Finansies se eerste mediumtermyn begrotingsbeleid-toespraak nader. Cyril Ramaphosa se hoop op die titel as President van die ANC het vroeg in die maand ʼn hupstoot ontvang met die verkiesing van sy bondgenoot, Oscar Mabuyane, om die Oos-Kaap te lei tydens ʼn chaotiese konferensie by die Internasionale Konvensiesentrum in Oos-Londen. Verskeie afgevaardigdes is beseer toe ʼn geveg tussen ondersteuners van Mabuyane en dié van uitgaande voorsitter Phumulo Masualle uitgebreek het en laasgenoemde se ondersteuners uit die byeenkoms gejaag is. Mabuyane het 935 stemme gekry teenoor Masualle se sewe stemme. Hierdie terugslag vir die ANC volg op die hakke van ʼn onlangse uitspraak deur die Hooggeregshof in Pietermaritzburg wat die 2015-verkiesing van die ANC se Zuma-geallieerde leiersfront in KwaZulu-Natal onregmatig verklaar het. Die ANC se top ses leiers moet nou partykrisisse in twee provinsies hanteer. Die omstredenheid rakende KPMG en hul rol in die staatskaping duur voort terwyl die voormalige Minister van Finansies, Pravin Gordhan, regsstappe oorweeg en twee regseenhede steeds voortduur met ondersoeke wat ernstige nagevolge vir die toekoms van die oudit- en adviseursfirma kan inhou.

Terwyl dit alles gebeur het, is Dan Matjila, Hoof Uitvoerende Beampte van PIC, besig om vir sy pos te veg en om die instelling wat staatswerknemers se bates van ongeveer R1.9 triljoen bestuur, te beskerm. “I’ve got the keys. They’re looking for the keys to the big safe,” het hy na bewering gesê. Dít was blykbaar na hy ʼn versoek van SAL-voorsitter, Dudu Myeni, vir ʼn R6 biljoen-lening om die nasionale redery van bankrotskap te red, geweier het. Myeni, ʼn goeie vriend van President Zuma, was blykbaar woedend.

Minister van Finansies Gigaba moet so spoedig moontlik biljoene rande vind om SAL, die SAUK en ander entiteite in staatsbesit wat finansiële probleme ondervind as gevolg van jare se wanbestuur en korrupsie, uit die moeilikheid te kry. Die Tesourie het op 29 September R3 biljoen aan SAL oorbetaal om ʼn lening betyds aan Citibank te kon terugbetaal. In Julie het die Tesourie R2.2 biljoen uitbetaal om ʼn lening aan Standard Chartered terug te betaal. Die regering sal ʼn geskatte totaal van R100 biljoen benodig om Eskom, die SAUK, SAL, die Nasionale Bemagtigingsfonds en ander te herkapitaliseer voor die mediumtermyn begrotingsbeleid-toespraak hierdie maand gelewer word.

Om sake vir die Minister van Finansies verder te vererger, dui die jongste SA handelsyfers boonop op nóg probleme. Kevin Lings, Hoof-ekonoom by Stanlib, wys daarop dat die swak Suid-Afrikaanse ekonomie oor die afgelope 18 maande, veral die voortdurende resessie in privaatsektor-beleggingspandering, gelei het tot ʼn merkbare afname in die aanvraag na invoere.

Alhoewel die afname in invoere Suid-Afrika gehelp het om van aanhoudende handelstekorte elke maand na gereelde handelsurplusse te beweeg, beteken dit ook dat baie minder invoerbelasting as die begrote syfers gevorder word. Oor die afgelope 12 maande, byvoorbeeld, is die gemiddelde jaarlikse groei in invoerbelastings -9.9% jaar op jaar teenoor ʼn begrote groeiraming van byna 16%.

Alhoewel invoerbelastings slegs tussen 4.5% en 5.0% van SA se totale belastinginkomste verteenwoordig, beteken die huidige tekorte dat hierdie belastinginkomstekategorie ongeveer R10 biljoen van die huidige geskatte totale tekort van R40 biljoen tot R50 biljoen in die 2017/2018-belastinginkomste kan bydra. Dit lyk op hierdie stadium asof die grootste deel van die inkomstetekort met bykomende staatskuld befonds sal moet word. Dit verhoog die waarskynlikheid van ‘n verdere kredietafgradering.

Mnr. Lings herinner ons dan dat daar ʼn noodsaaklike en positiewe verhouding is tussen verhoogde privaatsektorbelegging, hoër ekonomiese groei, werkskepping en groeiende belastingontvangste met verhoogde besigheidsvertroue as die katalisator sodat hierdie siklus tot voordeel van die hele samelewing is.

Op die 25ste Oktober sal Mnr. Gigaba fyn dopgehou word en elke woord van sy toespraak gefynkam word.

NB – Onthou asseblief om u plek vir die Pretoria beleggingseminaar – 22 November 2017 te bespreek.  Interessante nuwe spreker hierdie jaar!


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

8 + fifteen =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>