Ekonomiese & Markoorsig – April 2018

Posted on

Internasionaal

Die Trump-administrasie se besluit om tariewe op die invoer van verskeie goedere vanuit China te hef, kan nog nie werklik as ‘n handelsoorlog beskryf word nie, maar nou dat die eerste houe geval het, is die bykomende onstuimigheid in die wêreldmarkte wel opvallend. Reële sektordata dui vir nou op stabiele globale groei vir 2018. Die vooruitsigte vir 2019 is egter minder duidelik, aangesien die moontlikheid van ‘n oorverhitting van die Verenigde State-ekonomie, steeds druk plaas op konsensusvoorspellings en daar ook toenemende spekulasie rondom ‘n volwaardige koppe-stamp tussen Donald Trump en Xi Jinping is.

Die skynbare ekstra kapasiteit in die Eurosone en Japan se arbeidsmarkte behoort steeds die inflasie groei in hierdie streke in toom te hou. In teenstelling hiermee kan ‘n volgehoue ​​styging in kern-PVB, tesame met verhoogde groei in lone, die Amerikaanse hooflyn VPI van 2% verbysteek.  Na die Fed rentekoerse met 0,25% verhoog het in Maart, word die Fed nou gekonfronteer met die uitdaging om sy ietwat optimistiese siening van die ekonomie met die markverwagtinge te balanseer. Volgens die Fed se voorspellings, neig die mark meer ten gunste van vier rentekoersverhogings, alhoewel dit baie sal afhang van hoe vinnig loon- en prysinflasie sal verwesenlik. Die Europese Sentrale Bank is steeds ten gunste van geleidelike beleidsnormalisering. Alhoewel die lede van die Beheerraad van opinie verskil rondom die tydsberekening van die staking van bate-aankope, blyk hulle vol vertroue te wees oor hulle inflasievooruitsigte, wat dui op verhogings iewers in 2019. Vir nou dui die ekonomiese agtergrond en veral die ekstra kapasiteit in die Eurosone se arbeidsmark, nie onmiddellik op enige strenger beleid nie.

Volgens John Stopford van Investec Batebestuur is die meeste van die verwagte rentekoersverhogings van die Amerikaanse dollar teenoor die Euro reeds ingeprys, dus moet  beleggers nie verwag dat die dollar slegs op grond van rentekoersverhogings sal versterk nie. Hy het bygevoeg dat die onlangse regstelling in wêreld aandelemarkte tesame met beter as verwagte korporatiewe verdienste die waardasie van groot dele van die mark verbeter het.

Suid-Afrika

Moody’s het bevestig dat hulle Suid-Afrika se kredietgradering op Baa3 gaan hou. In ‘n markoorsig van Granate Asset Management, meld hulle dat Moody’s, ter verduideliking van hulle besluit, verwys na die vooruitsigte van ‘n geleidelike ommekeer van die historiese agteruitgang van die Suid-Afrikaanse instansies, verbeterde groeiprestasie en –vooruitsigte, en die 2018-begroting wat die skuldlas sal stabiliseer en uiteindelik sal verminder.

Die mark is definitief aangemoedig deur Moody’s se verrassingsbesluit om die graderingsvooruitsig van negatief tot stabiel te verander, ‘n weerspieëling van “…a careful balance of risks. The new administration faces equally significant opportunities and challenges”.

Die Monetêre Beleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank het teen die einde van die maand vergader en besluit om die repokoers met 0,25% tot 6,5% te verlaag. Die koersverlaging is net-net ingestem (3 uit die 7 lede het gestem om dit onveranderd te hou) en het gepaard gegaan deur ‘n verklaring met ‘n sterk waarskuwende ondertoon wat die indruk skep dat dit dalk die laaste koersverlaging vanjaar kan wees. Met globale groei en kommoditeitspryse wat steeds plaaslike groei ondersteun, verwag RMB Global Markets dat ‘n afname in politieke en beleidsonsekerheid – die hoofredes vir sub-optimale groei oor die afgelope vyf jaar – na hoër belegging-en ekonomiese groei sal lei. Hulle het hul ekonomiese groeivooruitskattings opwaarts aangepas na 1,7% (2018) en 1,9% (2019). ‘n Toename in private verbruik sal waarskynlik groei in 2018 ondersteun. In vergelyking met verlede jaar is die rand sterker en beide inflasie en rentekoerse is laer. Heelwat van die goeie nuus in die plaaslike ekonomie en politieke omgewing blyk uit die aandeelmarkwaardasies, wat steeds verhoog is, te spruit. Enige verandering tot hierdie relatief rooskleurige prentjie kan lei tot ‘n voortsetting van die wankelrigheid wat beleggers in die eerste kwartaal van 2018 beleef het.

Markprestasie

In Maart 2002 het Naspers ongeveer R12 per aandeel verhandel en oor die daaropvolgende 15 jaar gegroei tot      R3 845 op 17 November 2017. Oor die afgelope paar jaar het hierdie maatskappy, wat by verre die grootste markkapitalisasie op die JSE het, bygedra tot ongeveer die helfte van die groei van die totale effektebeurs. Dit was dus geen verrassing toe die JSE-Indeks van Alle Aandele (ALSI) met meer as 4% teruggetrek het in Maart toe Naspers gedurende die maand ‘n bietjie meer as 11% verloor het nie. Na die aandeel sy hoogtepunt in November 2017 bereik het, het dit reeds met meer as 22% teruggeval. Interessant genoeg was die totale opbrengs van die JSE ALSI min of meer sywaarts oor dieselfde tydperk. Dit illustreer hoe goed plaaslik gefokusde maatskappye (spesifiek finansiële en kleinhandelsmaatskappye) gevaar het, na die politieke ingesteldheid positief gedraai het voor en definitief na die ANC-verkiesingskonferensie in Desember. Die drie maande sedert die aanvang van 2018 was hard op Suid-Afrikaanse beleggers en het gelei tot ‘n 6% afname in plaaslike aandele. Veral eiendomseffekte het druk geplaas op markopbrengste terwyl die breër indeks die kwartaal byna 20% laer afgesluit het. Die prestasie van Resilient en sy verwante maatskappye, wat meer as gehalveer het oor hierdie tydperk, was een van die hoofredes hiervoor. Die effektemarkte het goed presteer gegewe Moody’s se meer positiewe ingesteldheid teenoor Suid-Afrika asook laer rentekoerse en het die kwartaal 8% hoër afgesluit. Wêreld aandele het in Maart heelwat onder druk gekom weens onsekerheid rondom die impak van handelsoorloë en Amerikaanse proteksionistiese beleid op die groot multi-nasionale tegnologie maatskappye. Dit het gelei tot ‘n afname van net ‘n bietjie meer as 5% vir die kwartaal, gemeet in randterme. Groeibates (aandele en eiendom) het swakker gevaar as defensiewe bates (effekte en eiendom), sedert die begin van die jaar, maar gedurende die jaar wat op 31 Maart geëindig het, het plaaslike en ontluikende markaandele steeds beter presteer as kontant, met effekte wat steeds die beste gevaar het en die Indeks van Alle Effekte (ALBI) wat meer as 16% vir die jaar gegroei het.

Die enorme verskil in beleggingsopbrengste tussen bateklasse, beide oor die laaste kwartaal sowel as die vorige jaar, illustreer weereens die waarde van deeglik gediversifiseerde multi-bate portefeuljes wat jou tot ‘n groot mate teen onstuimige markte beskerm.

 

Markaanwysers 31 Maart 2018
(Alle opbrengste in Rand) 3 maande 12 maande
   
SA Aandele (JSE Indeks van Alle Aandele) -6.0%  9.6%
SA Eiendom (SAPY) -19.6% -7.1%
SA Effekte (SA Indeks van Alle Effekte) 8.1% 16.2%
SA kontant (STeFI) 1.8%  7.4%
Globale Ontwikkelde Aandele (MSCI Wêreldindeks) -5.5%  0.9%
Ontluikende Mark-aandele (MSCI Indeks vir Ontluikende Markte) -3.0% 10.6%
Globale Effekte (Barclays Globale Indeks van Alle Effekte) -3.0% -5.5%
Rand/Dollar -4.3% -11.6%
Rand/Sterling -0.8% -0.9%
Rand/Euro -2.0%  1.6%
Gemiddelde Suid-Afrikaanse Multibate Hoë Aandeel-fonds -3.6%  3.3%
Gemiddelde Suid-Afrikaanse Multibate Lae Aandeel-fonds -1.3%  4.7%

 

Kommentaar: Kontant is koning – of dalk nie?

Sodra markte onstuimig word, vergelyk beleggers dikwels korttermynportefeulje-opbrengste met kontant, en reken dan dat kontant koning is. Die afgelope jaar is ‘n goeie voorbeeld: gebalanseerde fondse het tipies tussen 1% en 7% aan beleggers gelewer (afhangende van hul bate-allokasie, onder andere) terwyl kontant sowat 7.5% gelewer het.  In retrospek kan ons nou sê dat ‘n skuif na kontant teen einde Maart 2017 ‘n beter uitkoms vir beleggers oor die historiese 12-maande periode sou lewer.

Alhoewel dit waar was vir dié spesifieke kwartaal en jaar, is dit steeds nie ‘n onbetwisbare besluit wanneer die volgende kwartaal of jaar in oorweging kom nie. ‘n Drastiese skuif vanaf bateklasse met blootstelling aan langtermyngroei moontlikhede (en dus risiko) kan oor baie spesifieke tydperke goed werk, maar dit is nie die enigste oorweging vir beleggers nie. Die tweede aspek wat oorweeg moet word, is natuurlik wanneer beleggers weer moet terugkeer na bateklasse wat beskerming sal bied teen die eroderende effek wat inflasie op die koopkrag van hul kapitaal het. Alhoewel dit voorkom asof kontant inflasie geklop het, moet beleggers onthou dat belasting ‘n groot deel van die rente wat op kontant verdien word, opvreet, en dat op ‘n langtermynallokasie in hierdie baie veilige bateklas, na aftrekking van belasting, ‘n gewaarborgde verlies in koopkrag oor ‘n lang tydperk beteken.

As dit dan so moeilik is om die marktydsberekening reg te kry (en dus met sukses tussen “riskante” bates en kontant rondskuif), wat kan beleggers doen vir die beste kans om hul beleggingsdoelwitte te bereik? Die geheim hier is “tyd in die mark” en nie die “tydsberekening van die mark” nie. Old Mutual Investment Group se Macro Asset  Solutions  span  het  onlangs  die  langtermynprestasie  van drie plaaslike bateklasse gepubliseer: aandele, effekte en kontant. In ‘n datareeks wat oor 88 jaar strek, kon hulle die duidelike behoefte uitwys vir aandele (as ‘n voorbeeld vir groeibates) in portefeuljes wat daarna streef om die koopkrag van die belegger se kapitaal te beskerm:

Ekonomiese Kommentaar - April 2018

Om hierdie langtermynopbrengste te verkry, sal beleggers deur tydperke soos die afgelope kwartaal of die vorige jaar moet gaan, ten einde hul doelwitte aan die einde van die horison te bereik. In ‘n konserwatiewe multi-bate fonds is ‘n jaarlikse opbrengs van 4,7% (die gemiddelde opbrengs van sulke fondse oor die afgelope jaar) net so waarskynlik as ‘n opbrengs van 11,2% oor dieselfde tydperk, sou mens kyk na die geskiedenis van die afgelope 20 jaar.  Wie sal dus die suksesvolle belegger wees in tye soos díe? Diegene wat verstaan ​​dat heelwat irrasionele besluite en denke die markte aanvuur oor die kort termyn, maar rasionaliteit seëvier weer oor langer tydperke. Dit is dikwels ‘n veel beter plan om jouself terug te hou wanneer jy jeuk om iets drasties te doen, eerder as om aan jou beleggingstrategie te karring bloot net om iets te kan doen.

Om saam te vat, is dit dalk van waarde om na die woorde van een van die suksesvolste beleggers van die laaste eeu te luister. Dit was tydens ʼn gesprek in 2014 tussen die eks-Goewerneur van die Federale Reserwebank en Warren Buffett toe Alan Greenspan hierdie insiggewende opmerking gemaak het:

“Warren, it strikes me that if you did nothing else you never sell. That is, if you can grit your teeth through and just disregard short-term declines in the market or even long-term declines in the market, you will come out well. I mean you just stick all your money in stocks and go home and don’t look at your portfolio you’ll do far better than if you try to trade it.”

Bron: APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar.

 

 


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

10 − 6 =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>