Ekonomiese & Markoorsig – Junie 2018

Posted on

Internasionaal

Die Amerikaanse ekonomie is tans goed geposisioneer om sy uitbreiding voort te sit aangesien ʼn toename in groei moontlik is gedurende die res van die jaar. Verbruikersbesteding word klaarblyklik ondersteun deur die sterk arbeidsmark en soliede mediumtermyn stygings in behuising en aandele en besteding kan toeneem na ʼn stillerige eerste kwartaal. Daar is natuurlik ook ʼn paar struikelblokke, onder andere die onlangse styging in energiepryse, maar dit sal dalk teëgewerk word deur die moontlike stimulus van die belastingverlagings waarvan die uitwerking later die jaar duidelik behoort te word. Dit lyk ook asof die Federale Reserwebank bereid sal wees om ʼn blinde oog te draai vir enige tydelike inflasiestygings terwyl dit stadigaan sy pad vind na ʼn toepaslike monetêre beleidsposisie vir die latere fases van hierdie ekonomiese siklus.

In terme van die internasionale ekonomie, voorspel die jongste verslag van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) soliede globale groei oor die volgende twee jaar. ‘n Groot deel van die IMF se meer optimistiese voorspellings is gebaseer op die potensiële hupstoot wat die Amerikaanse belastingverlagings sal bring. Voorts sal die toename in Amerikaanse aanvraag heel moontlik die hoofaandrywer van wêreldwye groei wees. Nietemin, met ander streke soos die Eurosone en Japan, wat steeds staatmaak op hul sentrale banke vir monetêre ondersteuning, kan verskille in rentekoerse tussen die Verenigde State en die ander gevorderde ekonomieë aanhou vergroot, wat die Amerikaanse dollar se krag vir nog ‘n rukkie sal ondersteun.

Alhoewel daar onlangs sprake was van ‘n verlangsaming in die Eurosone, is dit belangrik om te beklemtoon dat die streek steeds groei teen ‘n koers wat naby hul maksimum potensiaal is. Die Eurosone se ongunstige demografiese samestelling, sowel as die gefragmenteerde politieke en finansiële stelsels, maak dit ongeskik om die dinamiek en groeipotensiaal van, byvoorbeeld, die VSA te kan bereik.  Die huidige groei en uitbreiding blyk egter bestendig te wees en behoort op gesonde vlakke te stabiliseer, hoofsaaklik te danke aan die sterk plaaslike aanvraag wat ‘n stewige fondament gelê het. Vir die Europese Sentrale Bank bly inflasie egter die primêre fokus en het die onlangse data min bevat wat dit sal regverdig om die Sentrale Bank se Kwantitatiewe Verruimingsprogram vroeg te verlaat.

Die politieke krisis in Italië is die nuutste struikelblok in die pad van risikobates en die wêreldekonomie. In werklikheid is die oorweging van bate-allokasie eerder die vraag of die huidige onstuimigheid dui op die naderende einde van die ekonomiese uitbreidingsfase en ʼn beermark vir risikobates, of is dit bloot ʼn regstelling? Ons geld is op laasgenoemde, met globale kontant wat voorkeur geniet bo internasionale effekte; gegewe die rigting en tempo van rentekoersveranderinge wêreldwyd.

 

Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse Monetêre Beleidskomitee het aan die einde van Mei vergader en besluit om die repokoers onveranderd op 6,5% te hou. Hul verklaring was in lyn met die groeiende fokus op ‘n inflasieteiken van 4,5% (eerder as 3%-6%). Alhoewel die inflasievooruitskatting merendeels onveranderd gebly het, het die inflasierisiko verhoog as gevolg van hoër oliepryse, ʼn swakker rand, hoër elektrisiteitspryse, en ʼn ommekeer van kapitaalvloei na ontluikende markte.

VPI het in April met 0,7% na ‘n jaar-op-jaar koers van 4,5% gestyg. Die beduidende verskil in inflasie was te wyte aan ‘n kombinasie van erodering van positiewe basis-effek, 1% BTW-verhoging en ‘n skerp styging in die olieprys. Die impak van die BTW-verhoging op inflasie sal eers oor die volgende paar maande heeltemal duidelik wees, en ons verwag opwaartse verrassings in die nabye toekoms.

Business Day het op 5 Junie berig dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die eerste kwartaal van 2018 met ‘n skokkende 2,2% gekrimp het, in vergelyking met die laaste kwartaal van verlede jaar – met ‘n verrassende swak prestasie as gevolg van ‘n daling van 24,2% in die landbousektor. Dit is die grootste kwartaallikse daling sedert die tweede kwartaal van 2009. Ekonome het ‘n inkrimping van 0,5% kwartaal op kwartaal verwag. Dit het verdere druk op die rand geplaas, aangesien dit van ongeveer R12.55 teenoor die Amerikaanse dollar op die dag beweeg het na meer as R13.10/VSD ʼn paar dae later – ‘n veel swakker vlak in vergelyking met R11.53 aan die einde van Februarie.

 

Markprestasie

Die versterking van die Amerikaanse dollar en stygende Amerikaanse Tesourie-opbrengs het markprestasie oor die afgelope paar maande gedomineer. Ontluikende markte (Suid-Afrika ingesluit) het deurgeloop onder negatiewe marksentiment, terwyl die Suid-Afrikaanse geldeenheid-, aandele- en effektemarkte in hierdie tyd swakker gevaar het.

Gedurende Mei het vrese dat die Amerikaanse Federale Reserweraad rentekoerse meer aggressief kan verhoog as wat verwag is, die Amerikaanse effekte opbrengste hoër gestoot. Tydens die tweede helfte van die maand het toenemende kommer oor moontlike handelsoorloë, tesame met politieke onrus in Europa, beleggers laat terugkeer na “veilige hawe”-bates soos die Amerikaanse dollar en Amerikaanse effekte (wat daarna die maand relatief onveranderd afgesluit het). Dié skuif na veilige bateklasse het daartoe gelei dat ontluikende markaandele en-effekte teenoor hul ontwikkelde mark eweknieë onderpresteer het. In die plaaslike markte is die ontluikende mark verkope gedemp deur die sterk prestasie van  hulpbronaandele, wat sedert die begin van die jaar bykans 10% versterk het. Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom is steeds onder druk ná die groot afname in Januarie, terwyl kontant en effekte goed gevaar het om kapitaal op die kort termyn te beskerm.

 

Kommentaar: Die intriges van inflasiekoerse

Verbruikers word op ‘n maandelikse basis daaraan herinner dat inflasie vir die grootste deel van die afgelope dekade binne die Reserwebank se mikpuntgrense van 3% en 6% gehou is. Werkgewers verwys natuurlik ook graag hierna tydens  jaarlikse loonverhogingsgesprekke. So, hoekom voel so baie van ons asof dit ál moeiliker word om ons huishoudelike begrotings te balanseer as pryse in werklikheid nie soveel styg nie?

 

Kevin Lings, hoofekonoom van STANLIB, werp meer lig op die saak.

Volgens Lings was Suid-Afrika se verbruikersinflasiekoers relatief in toom gedurende die nege jaar sedert die wêreldwye finansiële markkrisis, gemiddeld rondom ʼn skaflike 5.4%. Alhoewel die gemiddeld bo die middelpunt (4.5%) van die teikenband is, was die inflasiekoers 70% van die tydperk binne die teikenband van 3% tot 6%.

Dit word volgens internasionale standaarde as ‘n suksesvolle monetêre beleidsuitkoms beskou, veral gesien in die lig van Suid-Afrika se onbestendige wisselkoers, sowel as die impak van onvoorspelbare weerpatrone op landboupryse. Dit is te verstane dat al Suid-Afrika se kredietgraderingsagentskappe monetêre beleid en die sukses daarvan om inflasie te beheer, baie krediet gee. Die gunstige internasionale inflasie-omgewing wat sedert die wêreldwye finansiële markkrisis voortduur, het noemenswaardig tot Suid-Afrika se gunstige inflasie-uitkoms bygedra.

Lings wys daarop dat daar agter hierdie uitkoms egter ʼn beduidende uiteenlopendheid skuil in terme van die inflasiekoers wat binne die verskillende hoofkategorieë van verbruikersbesteding ervaar word. Met ander woorde, elke huishouding kon die afgelope nege jaar ‘n ander inflasie-ervaring gehad het, afhangende van hul spesifieke bestedingspatrone.

Sommige komponente van die Suid-Afrikaanse inflasiemandjie het sedert 2009 baie lae inflasie, of selfs deflasie, ervaar. Hierdie kategorieë van verbruikersinflasie wat die huishoudelike sektor die afgelope nege jaar ondersteun het, is bv.die aankoop van telekommunikasietoerusting (selfone ingesluit) wat ʼn jaarlikse gemiddelde deflasie van -15.4% sedert 2009 aangeteken het (dit is wêreldwyd die geval aangesien tegnologie ontwikkel en vooruitgaan en ouer selfoonmodelle verdiskonteer word).

Aan die ander kant van die spektrum, het die inflasiekoers vir sommige noodsaaklike dienste dramaties gestyg die afgelope paar jaar, ver bo die inflasieteiken en ver bo huishoudelike inkomste groei. In dié opsig, is een van die areas van dienste-inflasie wat die vinnigste styg, die koste van mediese versekering. Dit het volgens Statistiek Suid-Afrika die afgelope nege jaar met ‘n noemenswaardige jaarlikse gemiddeld van 10,2% gestyg. Dit is interessant dat hierdie verhoging heelwat hoër is as die gemiddelde jaarlikse styging in die vernaamste onderliggende mediese kostes, byvoorbeeld doktersfooie (7.1%), tandartse (6,2%) en hospitaalfooie (6,0%), wat daarop kan dui dat aandeelhouers in mediese versekeringsmaatskappye moontlik voordeel uit hierdie tendens getrek het.

Economic Commentary June 2018

Ander areas van verbruikersbesteding wat deur relatief hoë inflasie geraak is, sluit in elektrisiteit (jaarlikse gemiddelde styging van 12,3%, hoofsaaklik as gevolg van Eskom se behoefte om hul prysbepalingsbeleid aan te pas), water (gemiddeld 8,7% per jaar, ten spyte van ‘n afname in kwaliteit en voorsiening van water) en primêre en sekondêre onderwys (8,9%). Hierdié gevalle dui dikwels op óf ‘n  agterstand in infrastruktuur, ‘n gebrek aan mededinging, of ‘n groeiende gaping tussen die openbare en privaat voorsiening van noodsaaklike dienste.

Alhoewel daar geen intrinsieke rede is waarom Suid-Afrika nie ‘n laer gemiddelde inflasiekoers kan behaal nie, blyk dit duidelik dat die bereiking van hierdie uitkoms nie net afhanklik van die rentekoerse is nie. Daar moet eerder gefokus word op die toenemende mededinging sowel as deregulering van ekonomiese kernareas om sodoende voorsiening te maak vir meer kompeterende pryse en verhoogde produktiwiteit, en sodoende hierdie winste te gebruik om inflasieverwagtinge laer te dryf.

Bron – APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

15 − eight =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>