Ekonomiese & Markoorsig – Julie 2018

Posted on

Internasionaal

Die handelsoorlog tussen die Verenigde State en sy handelsvennote (hoofsaaklik China en die Europese Unie) het die afgelope paar weke vererger en was hoofnuus regoor die wêreld. Dit het internasionale markte nog meer onbestendig gemaak. Ons sal in die kommentaar aan die einde van die nuusbrief in diepte na hierdie verwikkelinge en die moontlike impak daarvan op beleggers kyk.

Die meeste ekonomiese aanwysers dui daarop dat die wêreldekonomie steeds in ‘n uitbreidende fase is en praatjies van ‘n dreigende resessie, veral in die Verenigde State, kan dalk vroegtydig wees. Indiensneming in die Verenigde State, Europa, Japan en die Verenigde Koninkryk neem steeds toe met die VSA en die Verenigde Koninkryk wat al nader aan volle indiensneming beweeg. Interessant genoeg, het looninflasie nog nie sy kop opgetel nie, en die opwaartse risiko is geleidelik aan die toeneem. Terwyl die hooflyninflasie reeds by of naby teikenvlakke is in die meeste gevorderde ekonomieë, sal dit waarskynlik toeneem oor die ontluikende markspektrum as gevolg van die onlangse waardevermindering in geldeenhede, veral teenoor die Amerikaanse dollar. Die Amerikaanse Federale Reserweraad sal waarskynlik die veranderinge in die Amerikaanse reële ekonomie bo internasionale gebeure prioritiseer wanneer hulle oor die toekoms van rentekoerse besluit. ‘n Volgehoue ​​herstel in ekonomiese groei, gekombineer met die toenemende onderliggende prysdruk, ondersteun verdere verstramming na die 0,25% toename (tot 2%) in hul Federale Fonds Teikenkoers op 13 Junie. In Europa dui onlangse opmerkings deur prominente lede van die Europese Sentrale Bank (ESB) se Beheerraad, daarop dat die ESB sy bate-aankoopprogram teen die einde van hierdie jaar sal begin onttrek, ongeag die situasie in Italië. Die Bank van Engeland, wat sover ‘n baie gunstige gesindheid gehad het, verander ook nou hul houding deur die aanduiding van ‘n moontlike rentekoersverhoging in Augustus. Die kans is dus goed dat monetêre beleid in ontwikkelde markte in die komende maande sal verstram. Die globale ekonomie kom oor die algemeen gesond voor en dit behoort die sterk groei in maatskappy-opbrengste wat ons sedert die wêreldwye finansiële krisis gesien het, te ondersteun.

Suid-Afrika

Na die onlangse periode van “Ramaphoria”, het plaaslike beleggers besef dat alles nie so rooskleurig is as wat dit voorgekom het na die verandering van die land en die ANC se leierskap ‘n paar maande gelede nie. Vanuit ‘n Suid-Afrikaanse ekonomiese oogpunt, was die onlangse data-vrystellings ‘n redelike ontnugtering. Aankoopbestuursindekse, kleinhandelverkope, mynbou- en vervaardigingsproduksie het almal teleurgestel, wat ‘n verdere afwaartse risiko vir ekonomiese groei inhou as gevolg van die inkrimping van 2,2% gedurende die eerste kwartaal van 2018.

Die waarskynlike roete van strenger monetêre beleid deur die vernaamste sentrale banke (soos hierbo genoem) en die verlangsaming van globale ekonomiese groei kan lei tot verdere afname in die aanvraag vir ontluikende markskuld (Suid-Afrika se staat-en korporatiewe skuld ingesluit) en verdere verkope. Gedurende Junie het buitelanders Suid-Afrikaanse effekte ter waarde van  R33,7 miljard verkoop wat ‘n gedeeltelike verklaring is vir die onlangse swak prestasie van die rand teenoor ‘n reeks buitelandse ontwikkelde markgeldeenhede. Alhoewel buitelandse beleggers die afgelope paar jaar hul besit van Suid-Afrikaanse effekte verhoog het (om nou bykans 40% van Suid-Afrika se rand-gedenomineerde staatseffekte te besit), het plaaslike beleggers (hoofsaaklik pensioenfondse) se besit noemenswaardig afgeneem. Enige verdere buitelandse verkope behoort dus relatief maklik deur Suid-Afrikaanse instansies geabsorbeer te word, aangesien effekte op huidige vlakke aantreklike inflasie-gekoppelde opbrengste bied en reeds ‘n geruime tyd beter presteer in vergelyking met ander bateklasse. Die beplande implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), vertragings in die bespreking van die Mynbouhandves en die besprekings rondom onteiening van grond sonder vergoeding, doen nie juis veel vir buitelanders se vertroue nie en as gevolg hiervan was die broodnodige buitelandse direkte beleggings veel minder as wat deur die Ramaphosa administrasie verwag is. Dit is egter nie nét slegte nuus nie. Die huidige administrasie is stadig maar seker besig om die direksies en bestuurstrukture van ondernemings in staatsbesit te verander. Tesame met verhoogde beleidsekerheid kan dit die grondslag vir beter ekonomiese groei in die volgende dekade lê.

Markprestasie

Ontluikende markte was weereens aan die verkeerde kant van die risiko-verhandeling in Junie. Namate die Amerikaanse Federale Reserweraad likiditeit ingekort het, het die VSA dollar se versterking tot die onderprestasie van opkomende markte se effekte en geldeenhede gelei. Hierdie onderprestasie is verder versterk deur kommer oor die invloed van moontlike handelsoorloë op wêreldwye groei (veral groei in ontluikende ekonomieë). Suid-Afrikaanse aandele was die beste presteerders te danke aan die groot, rand-verskansde aandele. Hierdie aandele het die tendens in ontwikkelde markte gevolg en goed presteer in Junie, met hulpbronaandele weereens die toppresteerders vir die maand. Saam met sy ontluikende mark-eweknieë, het die Rand in Junie aanhou verswak en sowat 8% teenoor die Amerikaanse Dollar, die Pond en die Euro verloor. Medium en kleinkapitalisasie-aandele het steeds swakker as groot kapitalisasie-aandele presteer en is nou bykans 15% agter oor die afgelope 12 maande. Oor tien jaar het hierdie aandele steeds beter gevaar as dié met ‘n groter markkapitalisasie, maar hulle het voortdurend swaar gekry in ‘n baie gunstige plaaslike groei-omgewing.

Suid-Afrikaanse eiendomsekuriteite het die ses maande sedert die begin van die jaar meer as ‘n vyfde laer geëindig na die Resilient debakel in Januarie. As ‘n bateklas lyk dit meer aantreklik teen hierdie vlakke, maar beleggers behoort versigtig te wees voor hulle te veel hoop op ‘n vinnige herstel plaas.

Kommentaar: Die Verenigde State en handelsoorloë

‘n Handelsoorlog wat reeds lank dreig tussen die VSA en China het vroeg in Julie ‘n realiteit geword, na die wêreld se twee grootste ekonomieë mekaar tariewe opgelê het. Die Trump-administrasie het tariewe geïmplementeer op Chinese goedere ter waarde van $34 miljard, waarna Beijing op sy beurt gereageer het met heffings op ‘n soortgelyke hoeveelheid invoere vanuit die Verenigde State.

Voor die tariewe ingestel is, het die Chinese staatsmedia ‘n reeks artikels gepubliseer wat die VSA vir hul byna gretigheid om ʼn handelsoorlog te begin, gekritiseer het. Chinese maatskappye en beleggers het hul voorberei op die ergste, maar ekonome was van mening dat enige impak op die ekonomie van geringe aard sal wees. China se sentrale bankier het gesê dat Trump se beloofde tariewe van 25% op Chinese goedere ter waarde van $50 miljard, sal 0,2 persentasiepunte van China se BBP wegneem en die “totale impak sal dus beperk wees”.  Dit volg na die vroeë skermutselings in die potensiële handelsoorlog tussen die Amerikaners en hul Europese handelsvennote na Donald Trump die Europese Unie gedreig het met ‘n voorgestelde tarief van 20% op alle motors wat in Europa vervaardig en na die VSA uitgevoer word. As ‘n moontlike teenmaatreël het die Europese administrasie in Brussels begin met die identifisering van ‘n lys van ongeveer 10 miljard Euro in Amerikaanse invoere om te teiken as mnr. Trump sy dreigement sou deurvoer. Die implementering van die Trump-tariewe is wyd verwag, gegewe sy belofte om werksgeleenthede in die Verenigde State te beskerm ten koste van ‘n groot verskeidenheid internasionale maatskappye.

Dit het ook verder die onopsetlike gevolg van verskeie Amerikaanse maatskappye wat nou aangekondig het dat hulle hul vervaardiging buite die VSA verskuif om sodoende EU-tariewe op goedere wat na lidlande uitgevoer word, te vermy. Harley Davidson het byvoorbeeld op 26 Junie aangekondig dat hulle produksie by hulle fabrieke in Indië, Brasilië en Thailand gaan opstoot sodat hulle EU-tariewe van tot $100 miljoen kan vermy. Mnr. Trump se besluite mag dalk nagevolge hê waarvoor hy nie voorbereid was nie.

Hierdie was egter nie die eerste tariewe wat ingestel is nie – in Januarie 2018 het Trump tariewe op sonpanele en wasmasjiene ingestel, en later in die jaar ook op staal en aluminium. Op 1 Junie 2018 het die VSA ‘n 25%-tarief op staalinvoere en ‘n 10%-tarief op aluminium, teen die Europese Unie, Kanada en Mexiko ingestel.

Die details hiervan is natuurlik gedurig voorbladnuus en laat beleggers wêreldwyd bekommerd oor die uitwerking op internasionale markte. Dit is dus baie belangrik om dit in perspektief te plaas. Volgens die Deutsche Bank stem die meeste beleggingsontleders saam dat die handelsoorlog tot dusver geen betekenisvolle impak op die VSA se ekonomiese vooruitsigte het nie. Om presies te wees, tariewe op $34 miljard se invoere is baie beperk as mens in ag neem dat die totale Amerikaanse invoere ongeveer $2.5 biljoen per jaar beloop. Sodra ons tariewe op voertuie en voertuigonderdele begin sien, sal dit baie ernstiger word aangesien Amerikaanse motorvervaardigers, verskaffers en handelaars sowat 7% van die totale indiensneming in Amerika verteenwoordig. Die negatiewe impak van die voortdurende handelsoorlog is dus klein, maar indien dit voertuie en voertuigonderdele begin beïnvloed, sal dit ‘n noemenswaardige negatiewe uitwerking op die Amerikaanse ekonomiese groei hê en dus ook op aandele en rentekoerse. Om saam te vat – die Trump-tariewe is op die oomblik eerder ʼn skermutseling as ʼn veldslag of ʼn werklike handelsoorlog. Dit is egter nog maar net die begin, so ons sal dinge fyn dophou. Ten minste gee die spotprentkunstenaars intussen aandag aan Trump se manewales….

Economic Commentary Julie 2018

 


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fourteen + twenty =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>