Ekonomiese & Markoorsig – Augustus 2018

Posted on

Internasionaal

Die tempo van internasionale groei is steeds bemoedigend na ‘n teleurstellende eerste kwartaal waarin daar ‘n verlangsaming in verskeie voorste ontwikkelde ekonomieë was. Die Verenigde State, met die ondersteuning van aansienlike belastingverlagings en ‘n noemenswaardige verhoging in staatsbesteding, was die uitskieter in die eerste kwartaal met groei wat hoër was as die algemene neiging, terwyl van sy ontwikkelde markgenote, veral Japan en die Eurosone, gesukkel het om produktiwiteit te verbeter.

Tydens sy 2016-verkiesingsveldtog het Donald Trump kiesers beloof dat ekonomiese groei sal terugkeer na 4% bo inflasie en dit blyk dat die wêreld se grootste ekonomie, op koers is om ekonomiese groei van ‘n geskatte 4% op ‘n jaargrondslag te lewer. Dit sal ‘n stimulus vir internasionale groei bied en dit ‘n raps bo die tendens van 3,8% hou, ondanks die toenemende spanning rondom handelstariewe.

Die drama rondom handelstariewe het die afgelope paar weke effe afgeneem na maande van verbale dreigemente en die implementering van sekere tariewe tussen die VSA en hul handelsvennote.  Dit het begin lyk asof hierdie oor-en-weer-stryery nooit gaan stop nie, tot Trump met die President van die Europese Kommissie, Jean-Claude Juncker, ontmoet het en tot ʼn ooreenkoms gekom het om die verhoging van Amerikaanse tariewe op Europese motors en motorparte op te skort in ruil vir ʼn Europese ooreenkoms om meer Amerikaanse sojabone en natuurlike gas te koop. Die twee leiers het verder ook ooreengekom om te werk aan ‘n verreikende vryehandelsooreenkoms tussen hierdie twee groot ekonomiese streke.

Ontluikende markte is die afgelope maande onder enorme druk, en die kombinasie van ‘n sterk Amerikaanse dollar en vrese (selfs ongegrond) vir ‘n toenemende handelsoorlog, staan in die weg van ‘n sterk herstel. Dit is in kontras met die Verenigde Koninkryk waar die goewerneurs van die Bank van Engeland gestem het om hul rentekoers met 0,25% te verhoog tot 0,75% – die hoogste vlak in nege jaar. Die Bank voorsien ‘n gematigde ekonomiese groei van 1,4% vanjaar en ‘n styging tot 1,8% volgende jaar, met ‘n afname in werkloosheid en beheer oor inflasie.

Die huidige internasionale ekonomiese agtergrond ondersteun steeds eerder aandelebeleggings in ontwikkelde markte as effekte, maar beleggers kan hulle maar voorberei op ‘n stamperige rit.

Suid-Afrika

Op die plaaslike front het “Ramaphoria” in “Ramapause” begin verander namate Suid-Afrika se fundamentele ekonomiese en politieke uitdagings die optimisme van ‘n wonderbaarlike ommekeer in ons groeivooruitsigte begin oorskadu het. In die lig van volgehoue trae ekonomiese groei, het die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank besluit om die primakoers onveranderd teen 10% (en die repokoers op 6,5%) te hou. Die bank ag steeds die risiko vir Suid-Afrikaanse inflasie aan die positiewe kant. Hierdie opwaartse risiko’s spruit voort uit beide die internasionale omgewing (sterk Amerikaanse dollar, verhoogde oliepryse, handelspanning, geo-politieke ontwikkelings, internasionale monetêre beleidsbepalings en beleggersentiment teenoor ontluikende markte) én plaaslik (elektrisiteitspryse en loonskikkings).Die Ramaphosa-administrasie word gekonfronteer met ‘n aantal belangrike uitdagings. ‘n Buitensporige staatsdiens-loonrekening (wat verlaag moet word, al is dit aanvanklik in reële terme), wanbestuur van ondernemings in staatsbesit en hoë werkloosheid, maak ekonomiese vooruitgang baie moeilik. Die onlangse BRICS-beraad in Sandton het darem gesorg vir goeie nuus in die vorm van lenings vanaf die Chinese regering. Finansiële bystand van die Chinese sal wel teen ‘n prys kom (vra maar vir Pakistan en Sri Lanka), maar sal vir nou ten minste help met die korttermyn befondsing wat Eskom benodig. Alhoewel die Suid-Afrikaanse ekonomie en groeivooruitsigte maar oninspirerend lyk in vergelyking met die ander BRICS-lande, sal ons blote assosiasie, ten minste ‘n mate van fokus plaas op ons strategiese belang as ‘n poort tot Afrika.

 

Economic Commentary August 2018

 

Markprestasie

Die wêreld aandelemark het in die tweede kwartaal, positiewe opbrengste gelewer, ten spyte van die dreigende handelstariewe tussen die Weste en die Ooste. Globale effektekoerse het hul opwaartse neiging voortgesit met Amerikaanse opbrengste wat in Julie van 2,85% tot byna 3% gestyg het. Ontluikende markte het ‘n mate van verligting in Julie ervaar (na ‘n groot afverkoop in die eerste helfte van die jaar).

Die rand het plaaslik versterk teenoor die dollar wat op sy beurt tot ‘n relatief sywaartse plaaslike aandelemark gelei het, met meer as die helfte van die opbrengste van Suid-Afrikaans genoteerde maatskappye wat in internasionale geldeenhede verdien is. Die finansiële sektor was die enigste plaaslike sektor, met positiewe prestasie, aangesien eiendom, hulpbronne en die industriële sektor negatief gesluit het. Effekte het ‘n positiewe maand beleef gerugsteun deur die MBK se besluit rakende rentekoerse, ‘n sterker Rand en inflasie wat verrassend sleg lyk. Die genoteerde eiendomsmark het sy negatiewe tendens vir die sesde agtereenvolgende maand voortgesit en swakker gevaar as alle plaaslike bateklasse vir die afgelope 12 maande.

 Kommentaar

Hierdie land is jou land, hierdie land is my land …

Toe die Amerikaanse volksanger, Woody Guthrie, die lirieke van die bekende liedjie, This is Your Land, in 1940 geskryf het, het hy moontlik ‘n mate van insig in Suid-Afrika se huidige grondkwessies gehad. Twee van die oorspronklike verse is intussen weggelaat uit populêre opnames, maar byna 80 jaar later, kan dit nog steeds relevant wees:

There was a big high wall there that tried to stop me;
Sign was painted, it said private property;
But on the back side it didn’t say nothing;
This land was made for you and me

In the squares of the city, In the shadow of a steeple;
By the relief office, I’d seen my people.
As they stood there hungry, I stood there asking,
Is this land made for you and me?

Tydens ‘n onlangse paneelbespreking wat deur STANLIB aangebied is, het ‘n aantal deskundiges die kwessie van grondhervorming bespreek. Volgens hulle, kan die ANC ‘n ordelike grondhervormingproses bestuur sonder om beslaglegging op private eiendom te doen. Volgens MOAH se Politieke Analis, Melanie Verwoerd, en STANLIB se Hoofekonoom, Kevin Lings, is die onsekerheid en sensitiwiteit rondom die onderwerp op die oomblik meer nadelig vir die ekonomie oor die kort termyn.

Lings is van mening dat die ANC se denke aangaande hierdie kwessie innoverend, prakties en progressief was, maar dat die debat heel waarskynlik meer intens sal word voor volgende jaar se verkiesing. Verwoerd het gesê dat die ANC se interne dokument oor die saak “sinvol en sensitief” was. Onteiening sonder vergoeding sal beperk word tot spesifieke omstandighede: stedelike en voor-stedelike eiendom waar die eienaars afwesig is of waar die eiendom verlate of in onbruik is. Die verslag beveel ook aan dat titelaktes gegee word aan mense wat in areas woon wat voorheen informele nedersettings (townships) was.

Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom by die Landbou Sakekamer, het gesê die debat het grotendeels gefokus op landbougrond, alhoewel die werklike probleem die aanvraag na grond in stedelike gebiede is. Hy het bygevoeg dat die grondhervormingsproses tot dusver nie bevredigend was nie. Grond wat bekom is vir verspreiding is nog nie versprei nie, dus sal grondonteiening nie die proses vorentoe neem nie en ander konstruktiewe modelle word tans voorgestel.

Lede van die gehoor het die paneel ondervra oor kwessies soos die hervorming van gemeenskaplike grondeienaarskap en hoe grondhervorming die behoeftes van ‘n vinnig verstedelikende bevolking sal aanspreek. Dr Anthea Jeffrey, ‘n grondwetlike kenner by die Instituut vir Rasseverhoudinge, het gesê dit is baie belangrik om aan individue eienaarskap te gee om gemeenskaplike grond sodoende produktief te maak, maar tradisionele leiers moet daartoe instem. Niemand sal belê in grond wat aan almal behoort nie. Sy het verder gemeld dat die fokus moet wegbeweeg vanaf hoeveel hektaar oorgedra word na die voorsiening van onderwys, werksgeleenthede en behuising in die stede, aangesien dit is waarna die meeste mense opsoek is.

Na aanleiding van die onlangse openbare verhore oor grondhervorming wat deur die Suid-Afrikaanse Parlement se Konstitusionele Hersieningskomitee aangebied is, is dit duidelik dat dit ‘n baie emosionele kwessie bly. Die probleem is dat die meeste mense toegang wil hê tot die geleentheid om hulself te kan verbeter en bevorder, maar dit bereik nie die hoofopskrifte nie. Dit is die sensasionele opinies wat die koerante verkoop (en mense na webwerwe lok) wat waarskynlik die publieke opinie oor die saak sal oorheers.

Die paneel het saamgestem dat die omstrede kwessies rondom grondhervorming nie voor die 2019 verkiesing uitgesorteer sal word nie, en waarskynlik ‘n sleutelrol sal speel in die partye se verkiesingsveldtogte. As ‘n belegger kan jy dus baie geraas en min duidelikheid oor grondhervorming in die volgende maande verwag. Gegewe President Ramaphosa se veldtog om $100 miljard in buitelandse direkte beleggings na Suid-Afrika te lok, sal dit hom baat om die beskerming van eiendomsreg te balanseer met die behoeftes van die menigte Suid-Afrikaners wie se eiendomsreg in die eerste plek geskend is.

Bron – APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nineteen + eight =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>