Ekonomiese & Markoorsig – Oktober 2018

Posted on

Internasionaal

Die wêreldekonomie lyk nog goed en groei steeds teen ‘n jaarlikse reële groeikoers van ongeveer 3,5%. Werkloosheidskoerse daal steeds in die ontwikkelde wêreld, met volgehoue indiensneming in die Verenigde State en die Eurosone. Ten spyte daarvan dat die meeste ontwikkelde markte werkloosheid feitlik heeltemal uitgeroei het, sal loonverhogings na verwagting in die volgende 18 maande maar beskeie wees. As gevolg van die implementering van handelstariewe (en sprake van verdere tariewe), is ons nie tans in dieselfde voordelige beleggingsomgewing vir groei soos 2017 was nie. Dit bly egter ‘n baie gunstige omgewing vir internasionale ekonomiese uitbreiding, aangesien inflasie steeds onder beheer is. Buite die Verenigde State, het kerninflasie regoor die ontwikkelde wêreld marginaal verander. Afgesien van Turkye en Argentinië, bly die inflasie in opkomende markte op historiese lae vlakke.

Heelwat van hierdie sterk groei mag reeds in die markte weerspieël wees. Die slim belegger sal op die uitkyk wees vir moontlike verrassings in hierdie positiewe vooruitsig en sal groeibates akkumuleer tydens swakker prestasie aangesien korttermyn onstuimigheid veroorsaak dat markte van langtermyn-fundamentele waardasies afwyk.

Suid-Afrika

Die ekonomiese vooruitsigte in Suid-Afrika is nie heeltemal so rooskleurig soos in die res van die wêreld nie. Ná die aankondiging vroeg in September deur Stats SA dat Suid-Afrika in ‘n tegniese resessie is, het die werkloosheidsyfer tot 27,2% gestyg. Dit dui daarop dat die totale huishoudelike inkomste steeds onder druk is. Hooflyninflasie – na beraming 4,7% hierdie jaar (‘n daling vanaf 5,3% in 2017) – sal na verwagting ‘n welkome hupstoot gee aan reële inkomste, maar in die afwesigheid van ‘n noemenswaardige groei in indiensneming, sal huishoudelike verbruik waarskynlik beperk bly. Juis hierom is inisiatiewe soos die Suid-Afrikaanse regering se onlangse Werkberaad asook die ekonomiese stimulus- en herstelplan wat President Ramaphosa in September aangekondig het, die sleutel tot volhoubare verbetering in plaaslike ekonomiese ontwikkeling.

Die regering se finansies is onder geweldige druk as gevolg van kompeterende bestedingsprioriteite, terwyl belastinginkomste-invorderings deur lae groei-uitkomste ondermyn word. Dit is dus geen verrassing om te sien hoe die regering se beleggingspandering inkrimp terwyl die Nasionale Tesourie fiskale omsigtigheid probeer handhaaf nie. Beleggings deur die regering en ondernemings in staatsbesit (SOE’s) sal waarskynlik swak bly as gevolg van fiskale konsolidering en SOE’s se swak balansstate. Benewens bogenoemde inisiatiewe, is President Ramaphosa se doelwit om direkte buitelandse beleggings te lok steeds van kardinale belang vir groei: hy het noemenswaardige vordering gemaak in sy beleggingsdoelwit van $100 miljard, en het reeds beloftes van sowat R464 miljard ontvang.  Sodra hierdie verbintenisse realiseer, sal dit die plaaslike ekonomie ‘n enorme hupstoot bied. Die lyk ook asof die mark Tito Mboweni se aanstelling as Minister van Finansies aanvaar het, na Nhlanhla Nene vir die tweede keer (hierdie keer uit vrye wil) die pos verlaat het.

In vergelyking met die res van die wêreld, is Suid-Afrika se vooruitsigte nie juis baie gunstig nie. Die belangrike vraag is dus hoeveel hiervan is in die mark ingeprys. En hou in gedagte, die donkerste uur is altyd net voor dagbreek.

Markprestasie

September was ‘n besonder moeilike maand in beleggersmarkte. Plaaslike aandele (-4,2%) het hul tweede swakste maand in vyf jaar aangeteken, met gesondheidsorg, verbruikersgoedere en randverskansingsaandele wat baie druk ervaar het, ondanks stabiliteit in wêreldmarkte. Hulpbronne was die enigste sektor wat positiewe opbrengste gelewer het. Die genoteerde eiendomsektor het sy sewende negatiewe maandelikse opbrengs vir die jaar aangeteken. Laasgenoemde sektor en  inflasiegekoppelde effekte, vaar nou swakker as geldmarkopbrengste oor vyf jaar.

Plaaslike effekte het September in ‘n 40-basispunt reeks verhandel en opbrengste het effens hoër as Augustus se afsluiting geëindig. Dit het beteken dat die Alle Effekte Indeks in September opbrengste van slegs 0,3% gelewer het. Die Geldmark was die bateklas wat die beste presteer het van al die plaaslike en globale bateklasse vir die maand.

Soos die meeste opkomende mark geldeenhede, het die rand teenoor sy eweknieë in ontwikkelde markte versterk en byna 4% teenoor die Amerikaanse dollar verbeter. Dit het druk geplaas op die opbrengs van globale bates vir plaaslike beleggers, aangesien klein bewegings in wêreld aandele, eiendom, effekte en kontant deur dollar swakheid oorskadu word. Die gaping tussen Amerikaanse en opkomende markaandele het toegeneem namate negatiewe sentiment teenoor laasgenoemde steeds druk op aandele en effekte in ontwikkelende markte geplaas het.

Kommentaar – Die donkerste uur is net voor dagbreek

‘n Mens hoef deesdae nie ver te soek om ‘n pessimistiese Suid-Afrikaner te vind nie. Hetsy dit nou die ekonomie, politieke onstuimigheid of selfs sport is, is dit maklik om die donker wolke wat oor die suidelike punt van Afrika saamtrek, te sien. Juis hierom, kom Cyril Ramaphosa se planne om die ekonomie te stimuleer en vir ‘n beter toekoms te beplan, as ‘n welkome verligting.

Op 25 September het die President stappe aangekondig wat deur die Kabinet ooreengekom is om groei aan te wakker, die ekonomie te stimuleer en vertroue te herstel in sektore wat geraak word deur regulatoriese onsekerheid en -onbestendigheid. Gedurende die laaste paar jaar, het die Suid-Afrikaanse ekonomie nie vinnig genoeg gegroei om werk te skep nie, en terselfdertyd is staatsfinansies ingeperk, wat die regering se vermoë om belegging in ekonomiese en sosiale ontwikkeling uit te brei, noemenswaardig beperk het.

Die sentrale element van die ekonomiese stimulus- en herstelplan is die herprioritisering van staatsbesteding aan aktiwiteite wat die grootste impak op ekonomiese groei, plaaslike aanvraag en werkskepping het. Dit sal ondersteun word deur die vorming van ‘n Infrastruktuur Ontwikkelingsfonds (SAIF).

In totaal sal die resultaat van die plan herprioritisering van besteding en nuwe projekvlakbefondsing van ongeveer R50 miljard wees. Hierdie herprioritisering van staatsbesteding moet binne die huidige fiskale raamwerk plaasvind en ook in ooreenstemming met die normale begrotingsproses wees.

Die President het benadruk dat daar ʼn noemenswaardige toename in die vlakke van belegging benodig word vir die ekonomie om te kan groei teen ʼn koers wat wél tot werkskepping sal lei.

Die stimulus- en herstelplan het vyf sleutel fokusareas, naamlik:

• Implementering van ekonomiese hervormings wat groei sal bevorder

• Herprioritisering van openbare besteding om werkskepping te ondersteun

• Die daarstelling van ‘n Infrastruktuurfonds

• Die aanspreek van dringende sake rakende onderwys en gesondheid

• Belegging in die verbetering van munisipale maatskaplike infrastruktuur

Een van die inisiatiewe stel veranderinge aan Suid-Afrika se visumprosedure voor om die toerisme sektor ‘n hupstoot te gee. Dit sluit veranderinge in aan minderjariges se reisvereistes, die lys van lande wat visums benodig om Suid-Afrika binne te kom, asook die visumvereistes vir hoogs geskoolde buitelanders. Dit behoort beide die formele en informele toerisme sektor te bevorder. Nog ‘n belangrike hervorming is om beleggings- en ontginningsvlakke in die mynbedryf te herstel en sodoende uitvoere en werkskepping te bevorder. Dit sal ‘n hersiene Mynbouhandves insluit. Afgesien van hierdie twee inisiatiewe, is daar ses ander spesifieke inisiatiewe wat in die toekoms ‘n baie meer besigheidsvriendelike omgewing moet skep.

Kevin Lings, Hoofekonoom van STANLIB, het onlangs berig dat die stimulus- en herstelplan ook infrastruktuurbesteding as ‘n belangrike dryfveer van ekonomiese aktiwiteit prioritiseer. Die regering het, meer spesifiek, besluit om ‘n Suid-Afrikaanse Infrastruktuurfonds te stig, waar die private sektor genooi word om sinvolle vennootskappe met die regering te sluit. Die uitbreiding en instandhouding van infrastruktuur het die potensiaal om werk op groot skaal te skep, beleggers te lok en ‘n grondslag vir volhoubare ekonomiese uitbreiding te lê. Die fiskus se bydrae aan die Infrastruktuurfonds oor die mediumtermyn-bestedingsperiode (drie jaar) sal meer as R400 miljard wees, wat gebruik sal word om addisionele hulpbronne van ontwikkelings-finansieringsinstellings, multilaterale ontwikkelingsbanke en privaat uitleners en beleggers, te bekom.

Die regering stig nou ‘n toegewyde Infrastruktuur Uitvoeringskomitee in die Presidensie om te verseker dat hierdie fondse doeltreffend aangewend word en dat projekte betyds en binne begroting voltooi word. Die Komitee beskik oor uitgebreide projekbestuur- en ingenieurskundigheid  om met projekontwerp en toesighouding van implementering by te staan.

Lings noem verder dat die stimulusmaatreëls heelwat erkenning verdien aangesien daar ‘n dringende behoefte is om beide die land se ekonomiese groeitempo te verhoog en sakevertroue te herstel. Baie van die groei-inisiatiewe is van kritieke belang vir die groei van spesifieke nywerhede of sektore. Ongelukkig is die meeste van die aangekondigde maatreëls, vanuit ‘n makro-ekonomiese oogpunt, relatief konserwatief en gematigd en onwaarskynlik om ‘n onmiddellike of beduidende verandering aan die ekonomiese groei en indiensneming te veroorsaak. Dit beteken nie dat die inisiatiewe nie belangrik is nie, maar eerder dat daarop gefokus sal word om die prioriteit van regeringsbesteding te verander om meer direk op die opheffing van ekonomiese groei en indiensneming te fokus.

Die belangrikste uitsondering op die bogenoemde siening is die Infrastruktuurfonds, aangesien dit die potensiaal het om ‘n katalisator vir bykomende privaatsektor-belegging te wees. In hierdie opsig moet die regering dringend sleutel infrastruktuur-ontwikkelingsprojekte identifiseer, ‘n uitvoerbaarheids- en omgewingsimpakstudie voltooi en daarna die projekte so gou as moontlik implementeer. In die verlede, sodra die regering ‘n ambisieuse infrastruktuur ontwikkelingsprogram aangekondig het, het hulle grootliks nagelaat om te fokus op die implementering van die projekte binne ‘n redelike tyd wat effektief voldoen aan begrotings en sperdatums.  Hierdie swak implementering het, oor tyd, die geloofwaardigheid van SA regeringstimuleringspakkette ondermyn en, daarmee saam, sakevertroue ‘n knou gegee.

Hierdie stimulusmaatreëls kom te midde van verskeie ander verwikkelinge op die ekonomiese front, insluitend die onlangse Werkberaad op 4 en 5 Oktober en die komende Internasionale Beleggings Konferensie wat op 26 en 27 Oktober, Suid-Afrikaanse en internasionale beleggers byeen sal bring. Hopelik sal die kombinasie van al hierdie inisiatiewe die Suid-Afrikaanse ekonomie die nodige hupstoot in 2019 bied. Dit mag dalk net die dagbreek op die horison wees terwyl die nag nog donker om ons is.

Die APS Beleggingskomitee het onlangs die eerste fase van ‘n navorsingsprojek voltooi wat daarop gemik is om op ‘n meer betroubare wyse, die fondse en fondsbestuurders te identifiseer wat waarskynlik volhoubare addisionele opbrengste sal lewer. Die navorsingsprojek maak gebruik van nuwe tegnologie wat nog nie gepubliseer is as ‘n analitiese metode vir die Suid-Afrikaanse en die internasionale aandelemarkte nie. Die aanvanklike resultate toon belofte en die fonds- en bestuurderontledings tesame met die gevolglike portefeulje konstruksie sal in die APS Aandele Fonds van Fondse gedurende die laaste kwartaal van 2018 geïmplementeer word. Sekere elemente van die nuwe aandelebestuurder-seleksie- en aandeleportefeulje-konstruksieriglyne sal ook geïmplementeer word in die APS Konserwatiewe Fonds van Fondse, die APS Gematigde Fonds van Fondse en die APS Bestuurde Groei Fonds van Fondse.

Bron – APS Maandelikse Kommentaar


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

14 − 7 =

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>